Stigters
Die Experi-Maatjies program is ontwikkel deur twee skoonsusters, dr. Madrie Portwig (Ph.D. Chemie) en Lindi Portwig (B.Com PGCE). Madrie het na die voltooiing van haar studies vir ‘n paar jaar in die navorsingsveld gewerk en sedert haar kinders se geboortes was sy voltyds ma vir Jessica en Christiaan. Lindi was vir 10 jaar voltyds in die onderwys en het ook na die geboorte van haar kinders, Kayla en Ruan, besluit om voltyds by hulle te wees. Hulle het egter nie hul passies vir wetenskap, opvoeding en kinders verloor nie. Madrie het reeds van vroeg af eksperimente met haar eie kinders gedoen en gesien dat die wêreld van wetenskap vir kinders pret kan wees. Die skoonsusters het toe besluit om hulle onderskeie passies en talente te kombineer, en so is die Experi-Maatjies / Experi-Buddies franchise gebore.
Hulle voel dat kinders in Suid-Afrika nie genoegsame blootstelling aan wetenskap vanaf ‘n jong ouderdom kry nie. Deur kinders van kleins af reeds bloot te stel aan wetenskap, vorm dit die boustene vir toekomstige leer en die verstaan van wetenskap. Jong kinders is van nature nuuskierig oor en gefassineerd met die wêreld om hulle. Hierdie nuuskierigheid maak dit die perfekte tyd om vrae te beantwoord en hulle sodoende insig te gee in hoe hierdie wêreld werk. Hierdie jong kinders kan dan sonder voorbehoud of vrees induik in onderwerpe soos fisika, biologie en chemie. Hulle glo ook dat hulle kinders van ‘n jong ouderdom reeds wetenskaplik moet laat dink, want daar is nog so baie om te ontdek!
Madrie en Lindi voel bevoorreg dat daar ander mense is wat hierdie passie met hulle deel. ’n Bewys hiervan is die talle franchises wat reeds in
verskillende areas in Suid-Afrika bestaan.